Maanloop

Op 18 Maart 2022 het ‘n spinternuwe projek die Maanloop, saam met die alombekende Beesloop plaasgevind. Vanaf 20:00 was ons rugbyveld omskep in ‘n ovaalbaan van pret, plesier en flikkerende ligte. Mense van die gemeenskap en Oosie-leerders het opgedaag in hulle lafste uitrustings en hulle mede-spanlede uitgedaag om soveel keer moontlik om die baan te stap. Daar was verskeie individue wat hulle oefenhorlosies gebring het en die 5km-pretdraf gedoen het.

Drie gelukkige besighede het ‘n jaar se gratis advertensiespasie vir hulle onderneming gewen tydens gelukkige trekkings, wat teen die heining in Hoogstraat vertoon sal word. Ons het ook 40 gelukkige trekkings gehad waar verskeie harte bly gemaak is. Die gloeitonnel was natuurlik die hoogtepunt vir die leerders. Met die gloeiverf, prettige uitrustings en die massa deelnemers was dit ‘n volmaan Maanloop om te onthou.